T-Hempies maak my week

Maandrag
huppel jy die more in
met groot-groot Coke.
Die dag wat blou is
word beter
al staan ek koud.

Dinsdrag
pronk jy rond
met Budget Cars.
Jy gaan by my verby.
ek haal asem
skaars.

Woensdrag
is jou landskap wyd
met University of Texas.
Ek kry 'n groot gevoel
dat ek niks anders
as 'n mens is.

Donderdrag
is jy prominent
met United se helpende hand.
Jy skuur rakelings verby
en ek voel weer
soos gister my wordende predikament.

Vrydrag
kom jy aangestap na my
met Uitspan-lemoene.
Ek die ene o"e
komplimenteer bloot
jou nuwe slenterskoene.

Saterdrag
is jy General Electric.
Ek hou jou liggies vas
as jy oor 'n wasbak buk
om die week se hempies uit te was.

Sondrag
is jy goed
bedek vir kerk.
Wys jy nie
sien ek nie
beskryf ek nie
jou sabbatstieties nie
want op hierdie anderste dag
van die Here
is ons sedelik
soos mense dit bepaal:
jy met jou klere
ek met my taal.

 

---Wilhelm Jordaan