Die Kranksinnige

In hierdie sel
agter die grense
van die vel
en die ho"e
vensters van die o"e
is twee mense:
die een is gek,
die ander, ek.
 
Dis hy wat kerm en gil
maar ek is bang en stil.
 
In elke klein uur van die nag
veg ek teen hom met minder krag
en as hy wen dan skree hy uit
 
sy wrok teen God en we^reld uit.
In hierdie klein vertrek
van vlees en been,
is twee. Die een
is gek,
die ander, Ek.